Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 17 OKTOBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word, en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons aankondig dat Ivan Lister, ZS6AUT, se sleutel op 9 Oktober stil geraak het. Hy was 79 jaar oud. Ons innige meegevoel aan sy dogter Cathy, kleinkinders, agterkleinkinders ander familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

DIE PRESIDENT SE NET DEK VANAAND DIE ONTWERP RADIOFREKWENSIESPEKTRUMREGULASIES

RADIOAMATEURS VERSKAF KOMMUNIKASIE TYDENS DIE CHILEENSE MYNRAMP

SARL-LIDMAATSKAP

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

DIE PRESIDENT SE NET DEK VANAAND DIE ONTWERP-RADIOFREKWENSIESPEKTRUMREGULASIES

Die ontwerp-radiofrekwensiespektrumregulasies word vanaand om 19:30 tydens die President se Net bespreek. Die Raad van die SARL het die ontwerpregulasies deeglik ter tafel gelê en sekere probleme geïdentifiseer. Dit word vanaand onder die soeklig geplaas.

Die konsepantwoord deur die SARL aan OKOSA sal van vanoggend beskikbaar wees op www.sarl.org.za. Die finale antwoord sal teen 31 Oktober vir oordrag aan OKOSA gereed wees.

Die Net word uitgesaai op 2 m van herhalers in Kaapstad, die Port Elizabeth-herhalernetwerk, Durban en Pretoria. Daar sal ook ‘n herleiding wees op die Laeveldse herhalernetwerk. Op HF word dit herlei op 3 718 kHz. Dit word ook gestroom word op die Internet, asook op Echolink deur ZS6FCS. Vir meer inligting besoek www.sarl.org.za en klik op ‘ARMI’.

RADIOAMATEURS VOORSIEN KOMMUNIKASIE TYDENS DIE CHILEENSE MYNRAMP

Die heldhaftige redding van die 33 vasgekeerde mynwerkers in die San José-myn van meer as 700 m diep, het die verbeelding van die ganse wêreld aangegryp. Die myners wat vir 69 dae vasgekeer was (5 km van die myningang af) was almal in merkwaardig goeie gesondheid toe hulle deur middel van ‘n doelgemaakte kapsule, die Fenix, na die oppervlak gebring is. Dit is die langste tyd wat enige vasgekeerde mynwerkers nog ooit lewend na die oppervlak gebring is.

Volgens die Radio Club de Chile (RCCH), dié land se IARU-lidvereniging, het radioamateurs van die Radio Club Copiapó, CE1CPI, ondersteunende kommunikasie verleen tussen die amptenary en die noodtoerusting-operateurs in die San José-mynkompleks, asook die gesinne van die vasgekeerde mynwerkers en die amptenary in Copiapó. Die myn is in die Atacama-woestyn, sowat 43 km van die Chileense dorp Copiapó.

“Daar is geen ander wyse van kommunikasie op die toneel nie,” het Radio Club Copiapó se President José Maldonado Lazo, CE1RXY, tydens die reddingsoperasie gesê. ”Die groep werk in die area van die myn met drie telefone, terwyl radioamateurs in Copiapó al die nodige doen vir SENCO ( ʼn konstruksiefirma), SAMU (ambulanse en noodhulp), die binnelandse administrasie, brandweer en polisie. Ons doen dit met graagte”.

Sommige van die 80 lede van die Radio Club Copiapó het radioamateurtoerusting in die mynkompleks opgerig en vrywilligers van die klub het sedert die instorting op 5 Augustus gebeur het, in skofte ondersteuningskommunikasie verskaf. Dié diens, saam met addisionele mobiele polisiestasies, hospitale en die brandweer het almal wat betrokke was, op hoogte gehou met die behoeftes en dringende vereistes. Die Suid-Afrikaanse firma Murray en Roberts het die gespesialiseerde boortoerusting voorsien.

SARL-LIDMAATSKAP

Die lidmaatskap van die SARL staan tans op 1 348, wat nog 112 kort is van die verwagte teiken van 1 460. Indien u nog nie u lidmaatskap hernu het nie, doen dit onverwyld. Skakel Mariska Maandag by 011 675 2493.

REGSTELLING

In verlede week se Engelse bulletin is daar in die item oor die President se Net en die veranderinge aan die radioregulasies, berig dat die ZR-lisensiehouers se kraguitset na 29 dBW verhoog gaan word. Dit moes egter 20 dBW gelees het. Ons maak verskoning vir enige ongerief wat dit kon veroorsaak het.

KLUBNUUS

Die Rustenburg Radioamateurklub is al ʼn geruime tyd sluimerend. Hulle is egter nou weer besig om weer die drade bymekaar te maak. Hulle vra almal in hul omgewing op hul webtuiste aan te meld by www.zs6rtb.co.za. en te noem waar u tuiste tans is. Hulle sien daarna uit om van u elkeen te hoor. U kan hulle ook skakel deur u e-posadres aan hul per SMS te stuur na 072 828 1709.

KOMPETISIENUUS

Die SARL QRP-kompetisie vind 23 Oktober plaas. Nadere besonderhede is by www.sarl.org.za bekombaar.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Die nuwe Sonvlek 1 113 het sy aankoms met 'n kragtige uitbarsting aangekondig. Verder help Sonvlek 1 112 om HF lewendig te hou. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 20 wees.

20 m is die beste keuse vir DX, gevolg deur 15- en 10 m. Smiddae en tot na die son gesak het behoort toestande na Indië goed wees. In die middae gaan toestande eers op 10 m en dan later op 15- en 20 m na Europa goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Seeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m na sonsondergang. Kontakte met die VSA is uiteindelik weer op 15 m gedurende die vroeë aand moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met goeie 15- en 20 m-openinge kan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20- en 30 m, wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

17 Oktober - Presidentsnet om 19:30 i.v.m. konsep-radioregulasies.
23 Oktober – die SARL se QRP-wedstryd.

Ons sluit vandag se bulletin op, ’n gelukkige noot af:

Die President, die Raad en lede van die SARL wens Bert Howes, ZS6HS, van harte geluk met sy 95ste verjaardag vandag 17 Oktober 2010.

Bert is ongetwyfeld een van die oudste en mees aktiewe radioamateurs in die wêreld. Hy is in 1935 as ZS1AL in Kaapstad vir die eerste keer gelisensieer.

Bert is vir 75 jaar ononderbroke lid van die SARL en is in 2008 met die Presidentstoekenning van die SARL vereer.

Gedurende sy 75 jaar as radioamateur was Bert baie aktief op 5 m, 6 m, BHF, UHF en maankaatsing en was ’n inspirasie veral vir hulle wat in die hoër frekwensies aktief is.

As ZS1AL was hy die eerste om die BBC TV-klank op 41,5 MHz in 1937 in die Unie van Suid-Afrika te ontvang en ook oor die langste afstand soos deur die BBC bevestig. In die vroeër dae het hy ook pionierswerk verrig met 5m-uitsendings vanaf Tafelberg en was ook die eerste om op 6 m ’n DX-kontak te maak toe hy in 1947 met MD5KW ’n QSO gevoer het.

Kolonel Bert Howes het van 1939 tot 1945 gedurende WO2 in Noord-Afrika diens gedoen en was vir kommunikasie die regterhand van Genl. Dan Pienaar en het slegs in 1980 as professionele soldaat met pensioen uitgetree.

Bert en sy eggenote Jenny sal in Desember 2010 die 57ste herdenking van hulle troudag vier. Hulle woon steeds in hulle eie huis.

Bert, ons beste wense aan jou en Jenny.


SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Mirror International" wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n "podcast"-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Ten slotte: Die redaksie van SARL-nuus swoeg al ‘n geruime tyd om ‘n behoorlike Afrikaanse vertaling vir “podcast” te kry. Indien u voorstelle het, stuur dit asseblief aan Jannie, ZR6PHD, met e-posadres janniedb@mweb.co.za of aan enige van die redaksie.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Gustav, ZS6BWN, opgestel is. Die bulletinredakteur was Jannie, ZR6PHD.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003